Saai Logo

Gereelde vrae

As jy enige hulp nodig het met betrekking tot 'n grondeis, kontak gerus Roos•Van Dyk Prokureurs

Wat is die vereistes vir ’n geldige grondeis?

Die vereistes word vermeld in artikel 2 van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994. In kort, is die vereistes voordat ’n eis kan slaag, soos volg:

  1. Die eiser(s) is ’n persoon of afstammeling van ’n persoon, of ’n bestorwe boedel of ’n gemeenskap,
  2. wat ná 19 Junie 1913 van ’n reg in grond ontneem is,
  3. as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het.
  4. Die eis moet voor 31 Desember 1998 ingedien wees.
  5. Billike en regverdige vergoeding is nie ten tyde van ontneming betaal nie.
Wat beteken dit as ’n kennisgewing ingevolge artikel 11(1) van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994, in die Staatskoerant gepubliseer is?

Dit beteken dat die eis geassesseer is en ’n baie lae drempel oorkom het. Die geldigheid van die eis is nog nie bepaal nie. Die Streekgrondeisekommissaris moet voor publikasie net van die volgende drie kriteria oortuig word:

  1. Die eis is op die voorgeskrewe wyse ingedien.
  2. Die eis is nie deur artikel 2 van die Wet uitgesluit nie.
  3. Die eis is nie beuselagtig of ergerlik nie.
Wanneer moet ’n grondeienaar in kennis gestel word van ’n grondeis wat in die Staatskoerant gepubliseer is?

Ingevolge artikel 11(6) van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994, moet die eienaar onmiddellik na publikasie in kennis gestel word.

Kan die grondeienaar of geaffekteerde party enige stappe doen om die publikasie van ’n eis ingevolge artikel 11 van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994, teen te staan sonder om ’n hof te nader?

Ja. Ingevolge artikel 11A kan enige geaffekteerde party vertoë tot die Streekgrondeisekommissaris rig vir die intrekking of wysiging van ’n kennisgewing wat ingevolge artikel 11 gepubliseer is.

Watter rol speel bemiddeling by pogings om ’n grondeis te skik?

Die Hoofgrondeisekommissaris kan die partye gelas om geskille deur bemiddeling en onderhandeling ingevolge artikel 13(1) van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994, te probeer oplos in vier omstandighede. Hierdie omstandighede is waar daar meer as een mededingende eis ten opsigte van dieselfde grond bestaan, waar daar ’n gemeenskapseis is en mededingende groepe binne die gemeenskap bestaan wat die beslegting van die eis bemoeilik, waar die betrokke grond nie staatsgrond is nie en die eienaar teen die eis gekant is, en waar daar ’n ander aangeleentheid is wat moontlik suksesvol deur bemiddeling en onderhandeling opgelos kan word. Nadat verrigtinge in die Grondeisehof begin het, kan die Hof partye ook gelas om te bemiddel en te onderhandel oor sekere aspekte waar die Hof van mening is dat dit geskille ingevolge artikel 35A kan oplos.

Wanneer moet die Grondeisehof bereg oor die meriete van ’n grondeis?

Artikel 14 van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994, bepaal dat ’n eis na daardie Hof verwys moet word na afhandeling van die ondersoek van die Kommissie op Herstel van Grondregte en die partye skriftelik ooreenkom dat dit nie moontlik is om die eis deur bemiddeling en onderhandeling te skik nie, of indien die treekgrondeisekommissaris skriftelik sertifiseer dat dit nie uitvoerbaar is om ’n geskil deur bemiddeling en onderhandeling op te los nie of indien die Streekgrondeisekommissaris van mening is dat die aangeleentheid gereed is vir aanhoor deur die Hof. Eisers kan die Hof regstreeks nader ingevolge artikel 38B. Dit gebeur egter selde.

Ten opsigte van watter geskille het die Grondeisehof jurisdiksie wat grondeise betref?

Die jurisdiksie van die Hof word hanteer in artikel 22(1) van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994. Die Hof het, opsommenderwys, jurisdiksie in alle geskille wat ’n moontlike reg op herstel bepaal, om vergoeding te bepaal en goed te keur wat aan grondeienaars betaalbaar is in die geval van onteiening of verkryging van grond vir eise, om te bepaal wie geregtig is op ’n regsaanspraak in grond, om verklarende verligting toe te staan, om te bepaal of vergoeding wat ten tyde van ontneming ontvang is, billik en regverdig was, om aangeleenthede rakende die uitleg van die Wet te bepaal, om grondwetlike aangeleenthede rakende die Wet te beslis, om die geldigheid en afdwingbaarheid te bepaal van ooreenkomste rakende die wyse waarop eise afgehandel moet word en om alle ander aangeleenthede voortspruitend uit die Wet te bepaal waar dit nodig is.

Sal suksesvolle eisers altyd op herstel van die betrokke grond geregtig wees?

Dit is dikwels nie moontlik om grond terug te besorg nie as gevolg van latere ontwikkeling of verstedeliking. Eisers kan ook aandui dat hulle verkies om nie herstel te ontvang nie. Hulle keuse sal egter nie deurslaggewend wees nie. Die Hof kan ander vorms van billike herstel gelas, soos ’n toekenning van alternatiewe staatsgrond of finansiële vergoeding.

Kan grond wat ingevolge ’n grondeis geëis word, steeds verkoop, verhandel of geskenk word voor afhandeling van die eis?

Ja. ’n Gedeeltelike beletsel ontstaan slegs nadat ’n kennisgewing ten opsigte van die eis in die Staatskoerant gepubliseer is ingevolge artikel 11 van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994. Die grond kan dan vervreem word slegs na skriftelike kennisgewing van een maand aan die Streekgrondeisekommissaris.

Kan grond wat ingevolge ’n grondeis geëis word, steeds verhuur, onderverdeel, hersoneer of ontwikkel word voor afhandeling van die eis?

Ja. ’n Gedeeltelike beletsel ontstaan slegs nadat ’n kennisgewing ten opsigte van die eis in die Staatskoerant gepubliseer is ingevolge artikel 11 van die Wet op Herstel van Grondregte, 22 van 1994. Die grond kan dan verhuur, onderverdeel, hersoneer of ontwikkel word slegs na skriftelike kennisgewing van een maand aan die Streekgrondeisekommissaris.

Kan slegs individue of groeperings wat voorheen grond besit het, grondeise instel?

Die Wet vereis nie vorige eienaarskap nie. Regte op grond is voldoende vir ’n suksesvolle eis. ’n Vorm van voordelige okkupasie word as regte op grond beskou indien die okkupasie langer as 10 jaar geduur het.

Is grondeise ooit weer oopgestel en kan nuwe grondeise ingestel word ná die aanvanklike afsnydatum van 31 Desember 1998?

Daar was ’n heroopstelling van eise tussen 1 Julie 2014 en 28 Julie 2016. Die wet wat eise weer oopgestel het, is ongrondwetlik verklaar. Hierdie “nuwe” eise is egter nie geskrap nie. Hulle is by interdik verbied om geprosesseer te word totdat die “ou” eise afgehandel is, of totdat die Grondeisehof moontlik anders beslis. Hierdie “nuwe” eise sal waarskynlik in die toekoms geprosesseer word en daar bestaan ’n moontlikheid dat die parlement eise weer sal oopstel, vir ’n derde keer.

In die geval van onteiening vir ’n grondeis, sal vergoeding betaalbaar wees?

Ja. Die Grondwet bepaal dat vergoeding billik en regverdig moet wees ooreenkomstig artikel 25(3) daarvan. ’n Geskil rakende die bedrag van vergoeding betaalbaar kan ook na ’n hof verwys word.

Wat moet ’n grondeienaar doen wanneer daar ’n grondeis op sy/haar grond is?

Dit is belangrik om kalm te bly en nie oorhaastig besluite te neem nie. Daar moet soveel moontlik inligting verkry word. Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting kan gebruik word om toegang te kry tot die rekords wat relevant is tot die grondeis. Grondeienaars moet ook so gou moontlik regsadvies inwin.

Is dit raadsaam om sake rakende grondeise aan te spreek in ooreenkomste vir verkoop of huur van grond?

Ja. Nuwe grondeise kom op ’n gereelde basis aan die lig en dit kan probleme in kommersiële transaksies veroorsaak as dit nie behoorlik aangespreek word nie. Dit is raadsaam om regsadvies in te win wanneer sulke ooreenkomste aangegaan word.

Kan die Grondeisehof besluite oor grondeise hersien?

Sommige besluite in die proses om 'n grondeis af te handel kan in beginsel aan hersiening onderhewig wees. Dit sal nie blote klerklike handelinge soos die ontvangs van ’n eis insluit nie, maar werklike besluite soos die besluit om ’n grondeis in die staatskoerant te publiseer, of om te weier om dit terug te trek of te wysig ná ontvangs van vertoë.